Wie is ons

DUITSLAND AS SENDINGLAND

Lank gelede was dit die land van Reformasie, vandag is dit ’n sendingland met ’n groot nood.

In Suid-Afrika het ’n groep predikante en ander geroepenes ‘n aantal jare gelede die Vereniging vir Sending onder Duitssprekendes (VSOD) gestig. Dit bestaan uit lede wat baie bekommerd is oor die toenemende toestand dat geloof en kerk in die Duitssprekende wêreld, veral Duitsland, Oostenryk en Switserland, onbekende woorde geword het. Van die evangelie blyk in daardie wêreld weinig oor te wees. Die VSOD se ondersteuning is gerig daarop om veral die teologiese opleiding van sendelinge en predikante in Duitsland te ondersteun.

DUISTERNIS IN EUROPA

Terwyl daar vlytig Reformasievierings in Duitsland was, het daar in die sendingtydskrif van Voice of Hope ’n artikel verskyn met die opskrif, “Duitsland as sendingland”. Dié opskrif.  Daardie opskrif was onverwags en skokkend, veral gesien in die lig van die geskiedenis van Martin Luther en die Reformasie sowat 500 jaar vantevore. Daar is dan só baie kerke en katedrale in Duitsland. Voice of Hope is ’n sendingorganisasie bekend vir hul sendingwerk onder vlugtelinge op Lampedusa (’n Italiaanse eiland) en onder Noord-Koreaanse werkers in Siberië. Hoe kan dit wees dat ’n land waar byna veertig miljoen van sy inwoners amptelik nog lidmate is van een van die twee (sogenaamde offisiële) groot kerke, die (protestantse) EKD (Evangelische Kirche in Deutschland) en die Roomse Kerk, ’n sendingland geword het? Honderde, indien nie duisende sendelinge is deur die loop van die laaste eeue juis vanaf Duitsland uitgestuur om sendingwerk elders in die wêreld te gaan doen.

TWEE PERSENT IN DIE EREDIENS

In die FAZ (Frankfurter Allgemeine Zeitung), een van die grootste koerante van Duitsland en dié met die wydste verspreiding in die buiteland, het ’n artikel ‘n paar jaar gelede weer berig dat net twee persent van die mense wat aan die opname deelgeneem het, nog gereeld een keer per week kerk toe gaan. ’n Ander publikasie het op sy beurt berig oor die feit dat daar met Kersfees geen sprake meer is van enige Christusverkondiging nie. Daarom is daar net een gevolgtrekking waartoe mens kan kom: Duitsland, die land van die Reformasie, is intussen self weer ’n sendingland.

MEES GODDELOSE STREEK

Die voormalige Oos-Duitsland word as een van die mees “godlose” streke in die wêreld beskryf (vergelyk die Britse koerant, The Guardian, 22 September 2012). Dit is die direkte gevolg van vier dekades van Marxisme met sy uitgesproke ateïsme. Die voormalige Wes-Duitsland is nie veel beter daaraan toe nie, alhoewel daar wel meer mense as in Oos-Duitsland is wat hulself as kerklik of as lidmate van die kerk sien. ’n Teologiese professor het opgemerk dat dit in hierdie geval egter meer oor kulturele gevoelens as oor geloof gaan. Dit is volgens hom eerder ’n geval van “belonging” as van “believing”.

GEEN SENDING MEER?

In 2013 het die EKD tot die bevinding gekom dat die huwelik tussen man en vrou nie ’n normatiewe instelling van God is nie. Nie lank daarna nie is nog verder gegaan deurdat offisieel deur een van die provinsiale sinodes van dieselfde kerk verklaar is dat bewustelike sendingwerk onder Moslems nie meer gedoen behoort te word nie. Die bekering van Moslems tot geloof in Christus mag by Christene nie die doel wees nie.

DUITSLAND AS SENDINGVELD

Verskillende kerklike vergaderings van gereformeerdes in Nederland en Engeland het tot dieselfde slotsom gekom, naamlik dat Duitsland ’n sendingveld is. Daar is ook Amerikaanse teoloë wat so voel en dit het gelei tot sendingprojekte van gereformeerdes. Een belangrike projek is die teologiese opleiding van Duitse sendelinge en predikante aan die RTS (Reformatoriese-Teologiese Seminaar Heidelberg), ’n teologiese skool wat van donasies afhanklik is.

TEOLOGIESE SKOOL IN DUITSLAND

Die teologiese skool in Duitsland het ’n sterk sendingvisie. Vier van die oudstudente van die RTS is al as sendelingpredikante in Duitsland bevestig. Ons hoop is dat daar verdere oudstudente binne die volgende jare as sendelinge in Duitsland self werksaam kan word. Daar is of was ook al studente uit ander lande en van ander taalgemeenskappe byvoorbeeld uit Korea, Spanje of Mexiko.

FONDSE VIR SENDINGWERK

Die vereniging wat die sendingwerk onder Duitssprekendes ondersteun, werk saam met verskillende gereformeerde kerke in Nederland in die neem van inisiatiewe vir dieselfde saak. Weens die ekonomiese en politieke krisisse in Europa en spesifiek Nederland het die finansiële ondersteuning egter merkbaar gekrimp. Daarby is die voortbestaan van die RTS en die werksaamhede van dr. Victor E. d’Assonville, wat vroeër deur die Gereformeerde Kerk Marble Hall en sedert 2020 deur die Gereformeerde Kerk Postmasburg as sendeling na Duitsland gestuur is, van die ondersteuning van individue en gemeentes afhanklik, ook die in Suid-Afrika.

Die Vereniging het verder ’n debietorderstel, stuur asb. ’n e-pos aan: [email protected] en ons stuur vir u ’n aansoekvorm.

Indien u betrokke wil raak, skryf ’n e-pos aan die voorsitter van die VSOD, Hillegert Wilcocks, by [email protected] of aan die ondervoorsitter, ds. Petrus Venter, by [email protected]

Ons wil namens die VSOD ’n beroep doen dat u vir VSOD en die bediening in Duitsland ’n donasie

sal inbetaal in die volgende rekening:

Bank: Absa, Rekeningnaam: VSOD, Rekeningnommer: 9317604596, Takkode: 632005 (Absa Universal).

Lees hier die grondwet van die Vereniging vir Sending onder Duitssprekendes.