Nuusbrokkie 1 van die Sendingveld

Hoe dikwels assosieer ons nie – verkeerdelik – die sendingveld met die derde wêreld nie? Dan vergeet ons die honger en dors na die evangelie (soos Calvyn 480 jaar gelede in sy brief aan Koning Francois I van Frankryk skryf) van die eerste wêreld. Daarby is dit interessant hoe juis Paulus in sy sendingreis hom aan die “eerste wêreld” van daardie tyd gewend het, aan die intellektuele filosowe van Athene (Hand. 17), aan die hooggeleerde teoloë van die Joodse volk, aan konings soos Agrippa (Hand. 25 en 26) en aan die mense in een van die mees vooruitstrewende stede van alle tye, die hoofstad van seker die beroemdste wêreldryk in die geskiedenis, Rome.

Bostaande gedagtes skiet my te binne wanneer ek aan die besondere gebeurtenis dink wat ons as gesin verlede Oktober in die Swart Woud beleef het. Ek moes preek by die huwelik van een van ons oud-studente. Hy is tans dominee en sendeling in Berlyn. Sy vrou, wat hy in die gemeente van Berlyn waar hy werksaam is, ontmoet het, is ’n Christen. Buiten haar broer het sy geen ander familielede wat Christene is nie. Hulle is Turke in die tweede en derde generasie in Duitsland. Ofskoon die Islam meer ’n kulturele erfenis vir hulle is as ’n oortuigde geloof en die meeste van hulle hulleself dus as “wêreldse” Moslems sien (hoeveel Christene is nie ook maar “naam-Christene” nie?), was daar tog deur die loop van daardie aand se huweliksonthaal baie ernstige gesprekke met enkele van hulle. Ek het net weer gesien hoe belangrik kennis van die ander se vertrekpunte is. Anders sou gesprekke en getuienis oor die vrye genade in Christus baie moeilik wees.

By vele besondere ervarings daardie aand (onder meer was dit ’n reünie van die meeste van ons teologiese skool, die RTS, se oud-studente die afgelope jare), is daar twee wat ek graag wil uitlig:

  1. Die dankbaarheid van die enkele (twee) Christene in daardie familie uit die Islam-agtergrond vir die verkondiging van Christus. Dit is aangrypend wanneer só ’n persoon, vroeër ’n Moslem, met trane in haar oë dankie vir die prediking sê.
  2. Die terugvoering, twee maande later, toe die bruid vertel het hoe ’n enge (Moslem) vriendin van haar deur die optrede van Christene op die huweliksonthaal baie geïmponeer was.

Hierdie twee getuienisse bevestig maar die ou beginsel van sendingwerk, naamlik die uitdra van die evangelie deur die prediking en daarby ook deur voorbeeld en optrede. En in die eerste wêreld is dit miskien moeiliker as in die derde …

Dr Victor d’Assonville – Heidelberg, Duitsland

 

Add a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *